Ons WERKSWYSE is hoofsaaklik om plaasmense op naweekkampe te neem waar hulle bedien word deur tematiese lesings, kleingroepbesprekings, musiek en sang, gebed, emosionele warmte en lekker eet.

Waterval Bedieningstrust is sedert sy ontstaan in 1998 gemoeid met die geestelike bediening en sosiaal-maatskaplike opheffing en ontwikkeling van plaaswerkers in die Wes-Kaap. In lyn met die strategiese plan van die Departement Landbou, word daar ook ‘n geintegreerde en holistiese benadering oor die ontwikkeling van die plaaswerker gevolg, maar alle aksies is gebou op ‘n Christelike fondasie. Die meeste plaaswerkers in die Wes- en Noord-Kaap het ‘n Christelike agtergrond of blootstelling daaraan gehad in hul opgroeijare.

Die lesings evangeliseer, genees innerlik en leer die Waarheid. Alles geskied onder leiding en die krag van die Heilige Gees. Die kampe word opgevolg met plaasbesoeke of -uitreike enkele weke na afloop van so ‘n kamp in ‘n bepaalde streek.
Voorts vind daar talle opleidingsgeleenthede plaas. Plaaswerker Gospelfees, plaas-tot-plaas besoeke gedurende weeksdae en samewerkings vennootskappe met kundiges in die veld van verslawings behandeling, siektes soos HIV & Vigs, en noodsaaklike maatskaplike en lewensvaardighede. Die programme wat die trust aanbied, was aanvanklik beperk tot plaaswerkers in die groter Boland-area, maar het sedertien uitgebrei na plaaswerkers in die Klein-Karoo, Overberg, Noordelike gedeelte van die Wes-Kaap en ook in die Noord-Kaap.

Die volhoubaarheid word bewys deurdat daar begin is met 4 kampe in 1998, wat intussen uitgebrei het na die huidige 22 kampe. Aan die begin was daar nie opvolgbesoeke en uitreike na die kampeerders nie, maar sedert 2006 word die plaaswerkers op hul plase besoek na afloop van kampe. Tot 2005 is die werksaamhede gedoen deur vrywilligers. Sedert 2006 het Waterval Bedieningstrust voltydse werkers aangestel en is daar tans 5 permanente werkers in diens van die Trust. Hulle doen weeklikse besoeke aan plase asook die opvolgbesoeke na afloop van kampe. Dit word in samewerking met area-koördineerders in streke van die Wes-Kaap gedoen. Tussen 40-50 vrywilligers uit al die sfere van die samelewing help met die naweek programme, terwyl die voltydse span die plaasbesoeke en opleiding behartig.

Maak 'n DONASIE